BEDROG van ongeveer R1.5 miljoen van die Suid-Afrikaanse Inkomste Diens (SAID) is deur 12 Metropolitan makelaars in Tzaneen gepleeg.

Nog drie verdagtes is Maandag inhegtenis geneem. Een verdagte is uit op ‘n waarskuwing en twee uit op borgtog van R2 000.

Ses werknemers van Metropolitan is verlede Maandag inhegtenis geneem vir SARS e-filing bedrog van miljoene rande. Van die 12 verdagtes is vyf onverwags by die maatskappy inhegtenis geneem en een in Florapark by haar huis. Volgens die SAPD is een van die beskuldiges die maatskappy se bestuurder.

Die inhegtenisname van die bedrog-swendelaars volg na ‘n intensiewe ondersoek deur die Valke en lede van SARS. Die werknemers is intussen tydelik geskors en sal daar onmiddellike dissiplinêre aksie teen hulle geneem word, volgens ‘n bron.

Volgens ‘n bron kan die omvang van die bedrogspul nasionaal op biljoene beraam word. Die saak is uitgestel tot 13 Mei.